Handtekening van Daniel, geb 1670

Handtekening op testament 1724
Daniel se handtekening
Handtekening VOC rekords 1704

Op hierdie bladsy, word gepoog om van die beskikbare inligting van die stamvader te versamel. Dit is saamgestel deur H Hubert Krynauw, geb 1955

1. Die stamvader, Daniel se plek van herkoms

By sy aankoms aan die Kaap in 1707, het die VOC Daniel se plek van herkoms aangedui as Grabo en sy van is gespel Crijnou.  Die huidige Grabow is geleë op die Elde-rivier, 126 km van Hamburg in Noord-Duitsland, 

Die huidige Duitsland is ‘n federasie van 16 state.  Grabow val in die staat Mecklenburg-Vorpommeren en die distrik staan bekend as Ludwigslust-Parchim. 

Daniel Crijno se naam opgeteken in die VOC-skeepsjoernale

Landsgrense het toe baie anders daaruit gesien as vandag en die vraag kan gevra word of Grabo ooit deel was van Pole, omdat die naam Grabo van Slawiese-Polabiese oorsprong is.  Grabow het egter altyd deel gevorm van Duitsland.  (Verwys na die Slawiese mense wat in die omgewing van die Elderivier gebly het.)

2. Die pleknaam, Grabow

Die “grab” in Grabow beteken haagbeukhout (“hornbeam”), ‘n houtsoort wat algemeen in Noord-Europa voorkom en waarvan die hout so hard is soos ‘n dier se horing.  Name met die wortel “grab” kom algemeen voor in Mecklenburg.  Dit is net effens verander as Grabowe (1186, 1252, 1275) en Grabow (1189, 1298). 

Pous Urbanus III noem kasteel Grabow vir die eerste keer in ‘n brief van 23 Februarie 1186. Die stad het in 1252 stadswet van die graaf van Dannenberg ontvang. Op 3 Junie 1725 (kort na Daniel se vertrek) is die stad deur ‘n groot brand verwoes. Die paleis is nooit herbou nie. Die historiese sentrum van Grabow word gekenmerk deur sy kern van houtraamhuise van die 18de eeu. 

In 2023 het Grabow ‘n bevolking van 5,573 gehad teenoor (‘n beraamde) net meer as ‘n 1000 in die 1700’s.

Daar is ook ‘n verband met die Grabowa-rivier in die noorde van Pole. Die naam Grabow en wisselvorme, Grabau, Grabo, ens. kom baie in Noord-Europa voor.   Pieter 1939 (3) het 26 dorpe met die naam “Grabow” in Noord-Europa getel. Die Mormone se webwerf het rekords van die Evangelische Kirche in die volgende dorpe met die naam Grabow:

In Duitsland
Mecklenburg-Schwerin (1640 – 1922)
Preussen-Sachsen (1810 – 1874)
Preussen-Brandenburg (1673 – 1835)
Preussen-Posen (1870 – 1876)
Preussen-Pommern (1618 – 1945)
 Preussen-Ostpressen (1761 – 1868)

In Pole
Bydgoszcz (1778 – 1915)
Szczecin (1618 – 1945)
Bialystok (1761 – 1868)
Poznan (1870 – 1876)

‘n Vroeë kaart waarop Grabow aangedui word

 3.  Bevestiging van plek van herkoms

Volgens beide Daniel, 1921 (2) en David W, 1908 (1) was die stamvader afkomstig van Grabow.  Pieter, 1936 (3) het via rekords van die Lutherse Evangeliese Kerk ook tot die gevolgtrekking bekom dat Daniel afkomstig is van Grabow. Die stadsargief het baie min rekords van die tydperk voor die brand. Die Kerk is die enigste bron.  Dié rekords dui ook aan dat daar oor ‘n lang tydperk Kreinows in Grabow was. Verskeie spellings kom voor, o.a. Kreinow, Kreynow, Kreinou, Creinow, Creynow, Kreinowe, Kreinowen en waarskynlik ook Krinne. Sulke verskille is nie vreemd nie.

4.  Inligting van Daniel Krynauw verkry uit die kerkrekords

Die Kerkrekords (Geskiedenis/Kerkrekords) dui aan dat Daniel Kreinow op 26 Des 1670 gedoop is en daar is ook inligting i.v.m. sy familie.  Pieter, 1936 (3) het met die navorsing bevestiging gekry dat die stamvader in Grabow, Mecklenburg gebore is.

Uit die Kerkrekords blyk die volgende: 

1656: Daniel Kreinow se oupa Christian was ‘n raadslid en getroud met Liesabeth Falckenhage

1658: Stiefoom Johan gebore

1659: Stiefoom Johan oorlede

1660: Stieftante Liesabeth gebore

1665: Oupa Christian Kreinow oorlede (Begrawe 30.04.1665)

1665: Daniel se ouers, Daniel Kreinow en Catharina Klüssen, getroud (03.10.1665)

1667: Broer Jochim gedoop (18.01.1667)

1668: Broer Christian gedoop (15.11.1668)

1670: Daniel gedoop (26.12.1670)

1676: Oupa aan moederskant Jochim Klüssen oorlede (Daniel 6 jaar oud)

1677: Vader oorlede (Daniel 7 jaar oud)

1688: Stiefouma Liesabeth Falckenhage oorlede (Daniel 18 jaar oud)

1704: Moeder oorlede (Daniel 34 jaar oud)

Daar is geen aantekeninge van huwelike, geboortes of sterftes van Daniel en sy ouer broer Christian in die Kerkregister nie. Daar is wel rekord van hul ouer broer, Jochim, se kinders.  Dit dui daarop dat Daniel die omgewing kon verlaat het.

As ons bostaande verloop koppel met wat ons weet van die stamvader se aankoms en huwelik aan die Kaap is die verdere verloop soos volg:

1707: Kom in Kaap aan (Daniel 37 jaar oud)

1711: Burger in Kaap (Daniel 41 jaar oud)

1718: Huwelik met Jeanne Jourdan (Daniel 48 jaar oud, Jeanne 20 jaar oud). Sy is in 1698 gebore.

1719: Dogter Elizabeth gebore (49 jaar oud). Vernoem na Daniel se skoonmoeder (miskien ook na stiefouma)

 1721: Seun Daniel gebore (Daniel 51 jaar oud). Vernoem na Daniel se vader.

1724: Dogter Catherina Margaretha gebore (Daniel 54 jaar oud). Vernoem na Daniel se moeder

1726: Seun Christiaan gebore (Daniel 56 jaar oud). Vernoem na Daniel se oupa en broer

1728: Seun Johannes gebore (Daniel 58 jaar oud). Vernoem na Daniel se skoonvader

1731: Daniel oorlede (61 jaar oud).

Bostaande lyk na ‘n redelike verklaring en bevestiging van die stamvader se geboorteplek.  Dit lyk asof Daniel tussen 1704 (na sy ma se dood) en 1707 (sy vertrek na die Kaap) besluit het om sy geboorteland te verlaat. Die naamgeepatroon pas ook baie goed. Sy kinders het almal familiename.  Op grond van hierdie ondersoek was Pieter (3) oortuig dat Daniel van Grabow, Schwerin, Mecklenburg gekom het. Al wat pla is die ouderdomsverskil van 28 jaar tussen Daniel en sy vrou Jeanne. By gebrek aan beter inligting, word dit voorlopig so aanvaar.

 5.  Wat het moontlik daartoe gelei dat Daniel Krynauw sy geboorteland verlaat het?

Volgens VOC-rekords het Daniel op 24 Des. 1696 as soldaat in diens getree.  Hy vertrek op dieselfde dag vanaf Texel, Nederland, aan boord van die “Grimmestein” onderweg na Batavië.  (Batavië was die primêre Nederlandse koloniale nedersetting in Nederlands-Indië, wat as die administratiewe en handelsentrum van die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie (VOC) in Asië gedien het.)

Aanhef van: “Journaal gehouden op het schip Grimmestein door schipper Abraham Zeeman, met aantekeningen van opperchirurgijn W. van Duiverden van Voord over de ziekte- en sterfgevallen aan boord en de toegediende medicijnen 1696 – 1697”. Daniel was op die skip in 1696

VOC-rekords toon verder:

  • Daniel vertoef tussen 25 April 1697 en 17 Mei 1697 aan die Kaap die Goeie Hoop
  • Arriveer in Batavië op 19 Julie 1697
  • Verlaat Batavië op 30 November 1703 aan boord van die “Flora”, onderweg na Europa
  • Vertoef weer tussen 3 en 30 Maart 1704 aan die Kaap die Goeie Hoop
  • Tree waarskynlik op 9 Aug. 1704 uit diens van die VOC in die Nederlande
  • Tree op 8 Jan. weer in diens van die VOC as landpassaat
  • Vertrek op dieselfde dag vanaf Texel, Nederland aanboord van die “Huis te Loo”
  • By sy aankoms op 7 Jun. 1707 vestig hy hom as stalkneg en saalmaker in diens van die VOC
  • Op 8 Des. 1711 word hy vryburger
  • Woon in die Kaapse Vlek ; saalmaker en herbergier
  • Hy was lid van die burgerwag tussen 1719 en 1727
  • Tree uit as sersant a.g.v. swak gesondheid
  • Sterf in 1731; testament vertoon 8 Augustus 1731
  • Teken sy van as Krijnauw in 1704 en 1724
Soldyboek van die skip “Huis te Loo”, waarmee Daniel Krynauw gevaar het na die Kaap

Uit die rekords blyk dat Daniel in sy dienstermyn by die VOC, by meer as een geleentheid by die Kaap aangedoen het.  Dit was dus ‘n berekende besluit om te emigreer.  Om ander moontlike redes na te vors, sal ‘n mens na die historiese konteks van Europa in die laat sewentiende en vroeë agtiende eeu moet kyk.  

Die Kaapse Vlek, soos die Kaap die Goeie Hoop bekend gestaan het. (The Caabse Vlek in 1779 – From a copper engraving by F. Riedel)

Die “Duitsland” van die laat 17de en vroeë 18de een

Gedurende die 18de eeu (1700’s) het “Duitsland” soos ons dit vandag ken, nie as ‘n verenigde nasie bestaan nie. In plaas daarvan was dit ‘n gefragmenteerde versameling van honderde state, owerhede, biskopdomme en vrystede binne die Heilige Romeinse Ryk (Heiliges Römisches Reich Deutscher Nation). Die Ryk was ‘n losse konfederasie onder die nominale heerskappy van die Habsburgse keisers (gevestig in Wene), maar werklike mag was gedesentraliseer.

Kaart van Duitsland in die 1700’s: ‘n lappieskombers van klein en groot state, met Pruise in die noordooste, Oostenryk in die suidooste, en honderde klein gebiede tussenin

Mecklenburg-Schwerin was ‘n arm, landelike en polities onstabiele hertogdom.  Die hertogte het met byna totale mag regeer, terwyl die adelstand (Junkers) kleinboere onderdruk het. Boere en dorpsmense is swaar belas om die hertog se weelderige hof te finansier.  Boonop was daar ‘n krisis in die landbou a.g.v. herhaalde oesmislukkings (1690’s–1700’s) en dit het tot hongersnood gelei.  Anders as welvarende stede (Lübeck, Hamburg), het Mecklenburg ook min handel gehad. Emigrasie was ‘n manier om uit die omstandighede te ontsnap.  

In hierdie tyd het die VOC Duitsers aktief as soldate en arbeiders gewerf.  Die VOC het vaste betaling en die kans gebied om grond aan die Kaap te besit—iets onmoontlik vir die meeste in Mecklenburg.

Hierdie faktore (en ander) het waarskynlik ‘n rol gespeel in Daniel Krynauw se besluit om hom in die Kaap die Goeie Hoop te vestig. 

Bronne

Navorsingsbronne word by Erkenning aangedui. Die Stamvader geskiedenis is hoofsaaklik van die volgende bronne:

  • Le Roux, Jos: Die Krynauw familie van Suid-Afrika, Voorlopige uitgawe. Nov. 2011. Calgary. (Jos le Roux (5)
  • Nationaal Archief, Nederland. (https://www.nationaalarchief.nl)
  • Pieter HJ Krynauw, 1936 (Pieter 1936 (3)

Vereenigde Oostindische Compagnie was ‘n geinkorporeerde handelsmaatskappy en een van die eerste maatskappye wat aandele uitgereik het. Gestig op 20 Maart 1602, word beskou as die wêreld se eerste multinasionale korporasie. Die VOC was verreweg die grootste handelaar met die Ooste in daardie tyd.

VOC vlag
Grabow 2025