Hugenote invloed

Uittreksel uit “Die Krynauw-familie” deur David Willem Krynauw, gebore 03/02/1908.
Die Krynauws, in die direkte linie tot by Pa (Pieter Hendrik Johannes Krynauw, 1861) was almal met afstammelinge van Franse Hugenote getroud. Selfs in die sytakke was 27 van Franse, 8 van Nederlandse en 4 van Duitse afkoms. Agtereenvolgens was hulle getroud met Jourdan, Marais, Le Roux, Le Roux, Du Toit en De Villiers. Interessant is dat hierdie verskynsel ook kenmerkend is van ander families. Ek dink hier aan die huwelik wat in 1711 voltrek is tussen Johann Heinrich Melius en Hester Roux, die dogter van die stamouers Paul Roux en Claudine Seugnet. Melius het as familienaam heeltemal verdwyn en word net nog gevind as voornaam of noemnaam. Wat hier in gedagte gehou moet word, is nie net die Hugenote invloed nie, maar die groot belangrikheid van die Moeder.
Hier geld dit veral deurdat Hester Roux, na die dood van Melius getrou het met Pierre de Villiers, gedoop 26 Desember 1695. Hulle is in 1724 getroud. Haar dogter Hester Melius is getroud met Jean de Villiers – 1699 die broer van Pierre. ‘n Ander dogter Eleonora Melius is getroud met David Malan, die seun van die stamouers Jacques Malan en Elizabeth le Long. Die derde dogter is Hester Roux, naamlik Dorothea is getroud met Paul Retief, die jongste seun van die stamouers Francois Retief en Marie Muoy.
In die Krynauw-familie is daar ook nog die ooreenkoms in afstamming tussen die stamouers van die Malan-familie en die Krynauw-familie deurdat laasgenoemde se stammoeder, Johanna Jourdan, die dogter was van Jean Jourdan en Elizabeth le Long en die feit dat Elizabeth le Long die stammoeder was ook van die Malan-familie. Die seun David Malan trou met Eleonora Melius en na haar dood met Elizabeth Marais. Die stamouers se seun, Daniël Krynauw, was getroud met haar suster, Margaretha Marais.
Elizabeth le Long is David Malan se ma en Daniël Krynauw se ouma en deur hulle huwelike word David Malan en Daniël Krynauw ook swaers. Interessant is ook dat David Malan en Eleonora Melius se seun in die huwelik tree met ‘n dogter van Jacob Marais, die enigste broer van die twee Marais-susters. Eers na haar dood tree Daniël in die huwelik met Debora Naude. Die Marais verbintenis kom heelwat later weer na vore wanneer Daniël Francois Malan in die huwelik tree met Francina S. Marais – oupa en ouma van dr. D. F. Malan.
Lees meer: Hugenote Vereniging

Invloed van die Hugenote
Die Franse Hugenote, wat in 1688 in die Kaapkolonie aangekom het, het die Suid-Afrikaanse kultuur beduidend beïnvloed. Hulle is geleidelik in die setlaargemeenskap opgeneem. As gevolg van koloniale beleid wat Nederlands bevoordeel het, het hulle die Nederlandse taal aangeneem en dit het later in Afrikaans ontwikkel. Hul Protestantse Calvinistiese geloof het ooreengestem met dié van die Nederduitse Gereformeerde Kerk, wat 'n gedeelde godsdienstige fondament versterk het. Hul waardes van harde werk, onafhanklikheid en gemeenskapsgerigtheid het met Nederlandse kultuur en tradisies vermeng en die opkomende Afrikaneridentiteit beïnvloed. Familiename, argitektoniese style en boerderypraktyke van Franse oorsprong is in die plaaslike lewe geïntegreer en het 'n blywende nalatenskap in die Afrikaner-erfenis en die Suid-Afrikaanse samelewing gelaat.