Deur Antoinette van Reenen (nèe Krynauw) 1946

OLIFANTOLI

‘n Olifant genaamd Fantoli
was net mooi gladnie lus vir skoli
Die alfabet, dié ken hy wel
maar tevergeefs of hy kon spel.
Hy wou net heeldag buite speel
want somme maak het hom verveel.

Die letters het hy omgeruil
dit laat sy ouma snik en huil.
Die woorde word als omgedraai
en almal maak ‘n groot bohaai.
Sy ma’t gesoebat en gemor
sy maats het hom selfs aangepor.

Maar Oupa kom toe met die raad:
“Gaan sien vir dokter in die straat!”
Die kwak het Toli ondersoek
dié kwaal verskyn nie in sy boek.
Die kuur: “Neem hom net na die Strand
waar krappe kriewel in die sand.

Miskien moet hy ook maar probeer
om krapmaniertjies aan te leer.
Hy retireer toe ‘n paar treë
die krappe glimlag skaam-verleë.
Fantoli loop nou agteruit
dit was vir hom ‘n groot besluit.

Maar BAC word ABC
die diere juig en sê: “Ja-nee”.
Fantoli heet nou Olifant
daar skort toe niks met sy verstand.
Hy skryf en tel en lees koerant
daar’s vrede nou in Diereland

2014.