Inez, Janet en Agnes Krynauw
deur Jacqueline Krynauw néé Hayward, (1945)
Ek het 2 van hierdie 3 susters van my skoonpa (David Willem 1908) geken. Ons het veral noue kontak met tannie Inez in die Paarl gehad. Sy was ‘n onderwyseres
Tannie Janet was skoolhoof op Oudtshoorn. Na tannie Inez se afsterwe in 1996, was daar talle interessante geskrifte tussen haar dokumente: toneelstukke, briewe en selfs n operette wat sy geskryf het. Hierdie geslag het vir mekaar briefies en notas gestuur- dikwels rympies. Hier is enkele voorbeelde.
Inez Krynauw, (geb. 1901)
Sy het die volgende op ouderdom 90 in die ouetehuis geskryf:
Ouderdom
Toe ek jonk was, kon ek agterop skop
My voete buig tot oor my kop
Algaande het ek stram geword
Maar oujaarsnag nog steeds te kort
Noudat ek oud is en my ore raas
Kan ek nie straat af of ek blaas
Staan soggens op, en vat my koerant
Lees die sterfgevalle van hoek tot kant
Ontbreek my naam, weet ek ek leef
En kan my dan weer na bed begeef.
Die Sleutelstorie
Wie het my sleutels weggeneem?
Ek het hul hier – net hier neergesit. Nou is hul skoonveld-heen.
Nee man, hul lê nie op die grond
Ek het gesoek hier oral rond.
My sak! My geheue is nie so swak!
Kyk self! Genade tog. Hul is nie in my sak.
Ag Annatjie kom sluit tog oop die deur.
Ek het my sleutels iewerswaar verloor.
Met my het dit nog nooit gebeur –
Behalwe soms, kom dit vir my nooit oor.
Hul was tog veilig in my sak
Nou het ek alles uitgepak
Dis nêrens te bespeur.
Kan jy nou meer! Hul hang nog in my deur.
Wie sluit die deure dan so vroeg!
Ons is terug oor vroeg genoeg!
Dat ek my sleutel tuis kon laat.
Nou maar die siekeboeg, dis al raad.
Maar hieroor gaan ek darem praat!
Maar wag – nou moet die hoogste woord maar uit.
Ek het vergeet die deure word om agtuur reeds gesluit.
Janet Krynauw, geb 1904
‘n Familielid het haar uitgedaag om te reageer op “Gee my…..?” Haar antwoord:
“My ligsinnge onstigtelike antwoord op sy baie stigtelike “Gee my”
Die Transvaler
Gee my ‘n stywe bord mieliepap
‘n Worsie gebraai in sy eie sap
‘n Groot beker koffie, direk van sy ma
En wat wil ek meer van die lewe vra?
Net tien Naas Bothas vir ons voetbalspan
En ‘n WP-span om uit skel.
Die Bolander
Gee my ‘n paar mootjies gerookte snoek
Lekker vars druiwe daar uit Franschhoek
‘n Dag by die Strand of Gordonsbaai
As daar ‘n koel suidooste windjie waai
‘n Glas vonkelwyn as die awond daal –
En hou maar vir julle die hele Transvaal!
Ek – (behalwe die pil)
Gee my n rustige uur met ‘n boek
‘n Maklike stoel in ‘n stille hoek
Weer jonk vir enkele kosbare ure
Deel ek die boekheld se groot avonture
Vergeet is my blikoor, vergeet is my bril
Vergeet ook die noodsaaklike bloeddruk pil.
Hoesdaai?”
Agnes Krynauw, geb 1890
Ons het haar nie geken nie. Sy het 22 jaar lank as ‘n sendeling in Mochudi in Botswana gewerk en die meisieskoshuis van die Homecrafts-sentrum, wat in 1941 gestig is, is na haar vernoem.
Die 3 susters was nooit getroud nie maar het letterlik duisende kinders se karakter help vorm. Hulle het ‘n groot invloed op ons en die Krynauw-familie se kinders en in skole gehad. Hulle was toegewyd, positief maar nederig en het respek, dissipline en ambisie gekweek.