Saamgestel deur Pieter HJ Krynauw, 1945 en Hubert Krynauw, 1955

Geboorte van Johanna

Sy is in die Nederduitse Gereformeerde Kerk Drakenstein (Paarl) gedoop. Die kerkrekords vermeld:

18 Januarie 1699: Jeanne, dogter van Izabeau Long, weduwee van die oorlede Jean Jourdan, as getuies: Jacque Mallant en Hanne Fauche, as peetmoeder.

Ons verwys na haar as “Johanna”.

Johanna se vader


Belle Etoile, Saint Martin de la Basque

Jean Jourdan, van Belle Etoile, Saint Martin de la Brasque, Provence, Frankryk. Gebore in Luberon omstreeks 1660. Het op 4 Augustus 1688 in die Kaap aangekom op die VOC-skip China. Hy is grond toegestaan in Oliphantshoek (Franschhoek), wat hy “La Motte” genoem het, waarskynlik na sy vrou se tuisdorp. Hy is oorlede tussen Maart 1698 en Januarie 1699 (voor Johanna se doop).

Jourdan grootouers


Pierre Jourdan, “Carretier” van Belle Etoile, Saint Martin de la Brasque, Provence, Frankryk, is op 28 Februarie 1677 oorlede. Hy is in 1646 getroud met Jehane Marque, gebore in 1628. Sy is in 1688 op die skip China, op pad na die Kaap, oorlede.

Johanna se moeder


La Motte d’Aigues

Isabeau Long van La Motte d’Aigues in Provence, gebore omstreeks 1668. Sy was ’n medepassasier op die VOC-skip China. Oorlede Augustus 1736.

Le Long grootouers


Pierre le Long, 1630-1705, van La Motte D’Aigues, Vaucluse, Provence-Alpes-Côte d’Azur, Frankryk en Jeanne Gouiran, 1635- 1703.

Huwelike – Johanna se vader en stiefvader


Jean Jourdan (haar vader) en Isabeau Long (moeder) was saam op die Hugenote-skip na die Kaapkolonie in 1688, maar het waarskynlik eers omstreeks 1689 in die Drakenstein-distrik getrou. Isabeau het Jacques Malan (stiefvader) in 1699 getrou, ná die dood van Johanna se vader, Jean. Jacques Malan, gebore 1665, was van Saint Martin d’Aigues in Provence.

Johanna se Jourdan familie


Kinders van Jean Jourdan en Isabeau Long: 
Pieter (Pierre), Jean, Paul, Louis, Johanna (Janne / Jeanne), gebore 18.1.1699 (die jongste).


Die eerste twee seuns, Pieter en Jean, is gebore en gedoop in die tydperk 1691-1694, maar geen besonderhede is in die Drakenstein-kerkrekords beskikbaar nie. Die drie ander doopinskrywings is soos volg:

Paul Jourdan birth
  • 25.09.1695 – Paul; Getuies: Paul Roux en Elizabeth Tailefer
  • 15.07.1697 – Louis; Getuies: Louis Barret en Marie Grillon
  • 18.01.1699 – Janne (Jeanne / “Johanna”); Getuies: Jacques Mallan en Johanna Fouche

Isabeau se boedelstukke ten tyde van haar dood in 1736 bevestig die kinders:


Elisabeth le Long; Jacques Malan; 3 September 1736
as voorkinderen bij haar eerste man Jan Jourdaan in huwelik verwekt Pieter, Jan, Paul, Louis en Johanna Jourdaan getrouwt met den landbouwer Andries Hesselbaart.

Johanna se Malan-stiefbroers en -susters


Kinders van Jacques Malan en Isabeau Long:
 Jacobus, gebore 1700; Elizabeth Anna, gebore 1701; Daniel, gebore 1703; Maria, gebore 1705; David, gebore 1708. Twee ander is in hul babajare oorlede. Johanna en haar Jourdan broers en susters het dus in die Malan-huishouding grootgeword.

Johanna se huwelike


Johanna is op 19 Junie 1718 getroud met Daniel Krynauw (Crijnau), en hulle het vyf kinders gehad, soos beskryf in die Krynauw-familieregister en tydlyn.

Na Daniel se dood omstreeks 1731 het Johanna op 31 Oktober 1734 met Andreas Hesselbarth getrou. Hy was van Halle in Sakse, Duitsland. Hulle het geen kinders gehad nie.

Johanna is oorlede op 4 Februarie 1756??

Die Hugenote se vlug vanaf Frankryk na die Kaapkolonie

Omstreeks middel Augustus 1687 vlug ’n Jourdan-familie van Belle Etoile (saam met ander) uit die Luberon (‘n bergagtige deel), op in die vallei van die Durance rivier en deur die Dauphiné-Alpe na Genève, Frankfurt en Holland. Dit was die begin van ’n 12-maande reis na die Kaapkolonie.

Die Jourdan-familie het bestaan uit Jeanne Marque (Johanna se ouma) en haar twee jongste seuns, Pierre en Jean Jourdan (Johanna se vader), asook haar weduwee dogter Marie Jourdan en haar drie kinders, Jeanne, Marie Marguerite Rousse (Roux). Isabeau Long (Johanna se moeder) het op ’n stadium ook by die groep aangesluit.

Die vlug van hierdie mense deur Frankryk, Switserland en Duitsland, en hul daaropvolgende reis op die VOC-skip China na die Kaap, moes uiters uitdagend gewees het.

Dit was ’n lang en moeilike reis, en 3 van die 8 lede van hierdie Jourdan-familiegroep het hul lewens verloor gedurende die vier maande lange vaart.

Hulle het op 20 Maart 1688 vanaf Goeree, Holland vertrek en het op 4 Augustus 1688 in die Kaap aangekom.

Op die reis het die Jourdans, Jeanne Marque, haar dogter Marie Jourdan, en Marie se dogter Jeanne verloor.

Jy moet verstaan dat niemand hul kinders op ’n boot sit tensy die water veiliger as die land is

(Hugenote Museum, Franschhoek).

Jean Jourdan (Johanna se vader), sy broer Pierre, en twee niggies, Marie en Marguerite Rousse, het in die Kaap aangekom, asook Isabeau Long (wat later met Johanna se vader getrou het).

Die impak van Johanna se moeder – Isabeau Long

Isabeau 1668-1736 het ’n groot invloed op die Krynauw-, Jourdan- en Malan-families in Suid-Afrika gehad:
1. Sy was die moeder van Johanna Jourdan, die moederlike voorouer van die Krynauws.
2. Sy was die moeder van Paul Jourdan (9 kinders) en Louis Jourdan (7 kinders), wat stigters van twee aparte takke van die Jordaan-familie in Suid-Afrika geword het.
3. Sy was getroud met die Malan voorvader (Jacques) en die moeder van, onder andere Daniel Malan (13 kinders) en David Malan (9 kinders), wat ’n belangrike rol in die landbou en burgerlike ontwikkeling van die Kaapkolonie gespeel het en onder andere n eerste Minister van Suid-Afrika opgelewer het (Dr DF Malan)
4. Haar eerste man, Jean Jourdan, was die eerste eienaar van die plaas La Motte, wat sy in 1699 geërf het. Haar kleinseun, Daniel Krynauw (Johanna se oudste seun- Tweede geslag), het La Motte asook Frederiks Berg, met sy dood in 1781, aan sy 6 kinders bemaak.

Nota: Die Jourdan/Krynauw La Motte plaas is “La Motte (Monument- 1694) (Bo-la Motte)”. Daar was nog n la Motte plaas wat aan Hans Hattingh toegeken is, nl “La Motte (Wemmershoek)”. Dit is tans die Rupert familie se La Motte Landgoed. “Frederiks Berg” is vandag Fredericksburg, wat deel is van Rupert & Rothschild Vignerons se belange in Franschhoek.

Haar graf (nr. 8) is by die Stellenbosch Moederkerk, waar sy saam met Jacob Malang en twee van haar kleinkinders begrawe is.

Jacob Malan en Isabeau Long graf op Stellenbosch