‘n Olifant genaamd Fantoli was net mooi gladnie lus vir skoli Die alfabet, dié ken hy wel maar tevergeefs of hy kon spel. Hy wou net heeldag buite speel want somme maak het hom verveel.
Die letters het hy omgeruil dit laat sy ouma snik en huil. Die woorde word als omgedraai en almal maak ‘n groot bohaai. Sy ma’t gesoebat en gemor sy maats het hom selfs aangepor.
Maar Oupa kom toe met die raad: “Gaan sien vir dokter in die straat!” Die kwak het Toli ondersoek dié kwaal verskyn nie in sy boek. Die kuur: “Neem hom net na die Strand waar krappe kriewel in die sand.
Miskien moet hy ook maar probeer om krapmaniertjies aan te leer. Hy retireer toe ‘n paar treë die krappe glimlag skaam-verleë. Fantoli loop nou agteruit dit was vir hom ‘n groot besluit.
Maar BAC word ABC die diere juig en sê: “Ja-nee”. Fantoli heet nou Olifant daar skort toe niks met sy verstand. Hy skryf en tel en lees koerant daar’s vrede nou in Diereland