Oupa Daniel

Daniel Elisa Krynauw Otto was seun van Susanna Margaretha Krynauw, a suster van Stephanus Johannes, Krynauw, gebore 1825. Sien Vyfde geslag in die Timeline

Skrywer

Dis geskryf deur Jannie Otto, voormalige dekaan en professor in die regte aan die Universiteit van Johannesburg

Gepubliseer  in die Landbouweekblad van  7 Augustus 2009

Die Storie

Aan die einde van die 19de eeu betrek my oupa, Daniël Eliza Krynauw Otto, en sy vrou, Maria Petronella, ‘n plaas op die heel hoogste punt van die Soutpansberg.  Albei was boorlinge van die Kaapkolonie.  Oupa se mense het hulle reeds op 1 April 1714 in die Kaap kom vestig.  Ouma was ‘n susterskind van Generaal de Wet.  Oupa herdoop die stukkie paradys terstond “Ottosdal”.  Dit is vandag nog die plaas se naam.  

Dit het lank geduur voordat die pionier en sy oudste seuns, ná die Engelse oorlog, ‘n pad vanaf die voet van die berg tot bo-op kon bou.  Een maal daar, begin hulle vernuftig boer.  Dit was (en is steeds) ‘n malariavrye, dog waterryke, stuk aarde met beperkte saaigrond; bosluise en reusemambas.  Die skurwe rante en groen klowe het gewemel van “tiers” wat gou ontdek het dat ‘n jong ossie ‘n veel sappiger maaltyd is as ‘n taai ou bobbejaanwyfie.

Ondanks beproewinge het Oupa (wat in sy 94 jaar net één keer by ‘n dokter was) en Ouma (wat self 90 Kersfese beleef het) 15 kinders op Ottosdal versorg.  Die kinders is op die plaas deur ‘n onderwyseres onderrig.  Oupa, Ouma en hulle twee dogters het aanvanklik in ‘n wa en later in ‘n nederige, dog elegante, tweeslaapkamerhuis gebly.  Die swetterjoel seuns het ‘n groot vertrek buite gedeel.  Een is klein dood, ‘n ander het op tragiese wyse in sy dertigs omgekom en ‘n derde seun is in sy middeljare aan kanker oorlede.  Die ander 12 het almal hoë ouderdomme bereik.  

En hulle het nie maer vleis geëet of gegril vir volroom nie, nóg het ‘n welmenende bottel Oude Meester brandewyn ongedeerd daarvan afgekom wanneer die broers later jare van hulle eensame plase elders in die Soutpansbergkontrei vir ‘n kuiertjie bymekaargekom het.  Die laaste oorlewende kind, ‘n dogter, is onlangs op 99 oorlede.  Sy kon op 35 hygloos ‘n sak mieliegruis teen die stoep se trappies opdra.

Oupa het ‘n watermeule gebou, boontjies, koring, mielies, aartappels en tropiese vrugte op beskeie skaal geplant en beeste en pluimvee aangehou.  Hy het geglo dat ‘n mens net genoeg moet produseer om almal om jou te versorg, die nodige voorrade aan te koop en te spaar vir in geval jy nog grond moet bykoop.  Aan die einde van sy dae het hy en Ouma besef dat hulle testamentêr oor die grond moet beskik.  Soos talle boeremense wie se sweet, bloed en trane gestort is in die grond waarin hulle gearbei het, wou hulle graag die grond vir die nageslag bewaar.  Dit was lank voordat daar ‘n wet op die Onderverdeling van Landbougrond was.  

Wanneer godvresende mense ‘n testament maak, kan hulle ook nie voorsien dat ‘n groot nageslag hier en daar ‘n egskeiding of ‘n ongeleerde, dog intelligente, swendelaar kan oplewer nie.  Ewenwel, die twee oues bepaal toe in hul testament dat hul 12 oorlewende kinders en ‘n weduwee-skoondogter die plaas in gelyke dele erf.  Erfgename wat op die grond sou woon, het reg “tot weiding, water en lande”.  Oom Bennie erf die opstal mits hy die twee oumense tot hul dood versorg.  (Regtens beteken dit bloot hy het verblyfreg gekry.  Die Romeine het dit habitatio genoem.)  Geen erfgenaam mag sy of haar deel aan ‘n nie-erfgenaam vervreem nie, tensy die meerderheid van die erfgename daartoe toestem.  Een bepaling het egter in die testament ontbreek, en dit is juis dié uitlating wat later die drinkwater ietwat sou besoedel.  Daar was geen bepaling wat die erflatings van getroude erfgename gevrywaar het teen gemeenskap van goed nie.  Vandag is dit gebruiklik in testamente.  Aangesien vanmelewe se mense nogal geneig was om binne gemeenskap van goed te trou, het dit beteken dat party mense buite die 13 om toe ‘n een-ses-en-twintigste eienaar van grond geword het.  Maar dit is nie die einde van die storie nie.

In die laat jare sestig verskyn Gerhardus Petrus Otto op die toneel.  Hy is ‘n kleinseun van Oupa en Ouma en het ‘n passie vir die plaas – wat intussen agteruitgegaan het.  Hy begin ‘n langdurige proses waaraan die Land Bank geen erg het nie.  Met die hulp van sy pa, oom Fanie, en met die heelhartige steun van sommige van die ou erfgename, besluit hy om nietemin die plaas te koop en op moeisame wyse die nodige toestemming van die ander erfgename te kry.   

Want, sien, behalwe vir die gemeenskap-van-goed-affêre, is die erfgename nou al almal bejaard.  Net sodra Gerhard mooi gevorder het met die toestemmings tussen ‘n klomp hardekoppe wat die bloed van die Germane in hul are het, sluit ‘n erfgenaam by Oupa en Ouma in die hiernamaals aan en begin die proses van vooraf met sý erfgename.  Die prokureursfirma in Pietersburg wat die transaksies hanteer se stel lêers oor Ottosdal staan later vyf Bybelse elle wyd op die rakke.  

Om die dinge te vererger, is daar erfgename wat heel inskiklik is om toestemming te verleen tot verkoop deur die ander erfgename, maar wat minder geneë is om sy/haar eie deeltjie te verkoop, behalwe natuurlik as die prys reg is, dankie.  Só het dit gebeur dat neef Gerhard die laaste drie mense meer moes betaal as die ander tien altesaam.

In ‘n stadium kom die prokureurs agter dat een van die erfgename se eggenoot nooit toestemming tot verkoop van sy/haar eie ses-en-twintigste aandeel verleen het nie.  Dié betrokke eglied het egter jare terug verdwyn.  Ná ‘n lang soektog vind hulle uit hy/sy is op ‘n verre plek dood sonder dat sy/haar kinders daarvan bewus was en sonder om ‘n testament na te laat.  O weë, ‘n boedel word geopen en sy/haar kinders is skielik almal mede-eienaars van ‘n ses-en-twintigste aandeel. Die ou versnipperde geldjie wat hulle hieruit kon maak, sou net-net genoeg wees vir ‘n deposito op ‘n nuwe Datsun SSS-motorkar, of vir ‘n nuwe hoëtroustel, maar ‘n gegewe perd se bek respekteer ‘n mens, of hoe?

So kan ‘n mens voortgaan, maar Gerhard het eindelik die eienaar van die grond geword.  Ná agtien jaar.  En oud geword.  

Oupa het in 1952, terwyl hy op sterwe gelê het, vir oom Bennie gevra: Wat gaan nou met my gebeur, my seun?”  Oom Bennie het geantwoord: “Die ewige lewe, Pa.” Waarop Oupa geantwoord het: “O, ja” en rustig gesterf het.

Ek het al dikwels gewonder of die engele Oupa, wanneer hy op die wolke daarbo die konsertine speel, ingelig het oor al die drama wat sy en Ouma se testament veroorsaak het.  

Die plaas Ottosdal is nie op die oomblik te koop nie …